’95-Wêreldbekerrugbyspan vra oomblik van stilte

26Oct - by SA Genocide - 0 - In misdaadstatistiek SA-nuus Springbokke

springbok-rugby-logoVerskeie lede van die Springbokspan vir die 1995-Wêreldbekerrugby het Donderdag in ʼn verklaring versoek dat ʼn oomblik van stilte Saterdag voor die Curriebeker-eindstryd in Durban gehou sal word ter herinnering aan die slagoffers van geweldsmisdaad in Suid-Afrika.

Die verklaring, wat namens die destydse wêreldbekerrugby-kampioene, onder wie die ontslape Ruben Kruger, Kitch Christie en Joost van der Westhuizen, uitgereik is, het gesê dit is in reaksie op die jongste misdaadstatistieke wat vroeër vandeesweek bekendgemaak is.

“Ons veroordeel ten sterkste geweldsmisdaad en die oortreders in hierdie verband,” lui die verklaring. Die verklaring verwys ook na statistieke wat toon dat die gemiddelde verhouding vir moorde wêreldwyd 6,2/100 000 is. In Suid-Afrika is die moordkoers 34,1/100 000 en wanneer daar net na plaasmoorde gekyk word, is die moordkoers 156/100 000.

“Geweldsmisdaad verwoes gemeenskappe oor die hele land. In die lig van hierdie skrikwekkende syfers, wil die onderstaande lede van die 1995-Wêreldbekerrugby-Springbokspan versoek dat ʼn oomblik van stilte Saterdag 28 Oktober gehou word voor die Curriebeker-finaal tussen die Sharks en die WP.”

Die verklaring is uitgereik namens Hennie le Roux, Chester Williams, Balie Swart, François Pienaar, Morné du Plessis, James Small, James Dalton, André Joubert, Garry Pagel, Rudolf Straeuli, Mark Andrews, Kobus Wiese, Krynauw Otto, Hannes Strydom, Robbie Brink, Adriaan Richter, Os du Randt, Marius Hurter, Christiaan Scholtz, Japie Mulder, Gavin Johnson, Brendan Venter, Chris Rossouw, Joel Stransky, Johan Roux, Evan Speechly, Gysie Pienaar, Hennie Bekker, Johan Roux, Naka Drotske, Pieter Hendriks, Rudy Joubert asook wyle Ruben Kruger, Kitch Christie en Joost van der Westhuizen.

Die 1995-Springbokspan voeg hul name by talle ander bekendes wat hulle ook vandeesweek ten sterkste uitgespreek het teen plaasaanvalle, moorde oor die algemeen en die kultuur van geweld in Suid-Afrika.