Drie vas ná nóg ʼn plaasaanval

26Oct - by SA Genocide - 0 - In Hoofnuus Limpopo plaasaanvalle SA-nuus

Die drie verdagtes wat in hegtenis geneem is. Foto: SAPD

Drie verdagtes is Woensdag vasgetrek ná ses aanvallers met klapmusse aan ʼn boer by sy huis in Roossenekal buite Groblersdal in Limpopo aangeval het.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê ses gewapende verdagtes met klapmusse het vroeg Woensdagoggend lukraak op die plaashuis geskiet en te voet gevlug sonder om enige iets te steel. Niemand is tydens die voorval beseer nie.

Ngoepe het aan Maroela Media vertel die boer, wat volgens hom in sy laat veertigs of vroeë vyftigs kan wees, was buite die huis toe hy die ses aanvallers gewaar en hulle op hom losgebrand het voordat hulle van die toneel gevlug het. “Soos hulle gehardloop het, het hulle geskiet,” het Ngoepe gesê.

Die vuurwapen en ammunisie waarop daar beslag gelê is. Foto: SAPD

Die polisie is volgens hom onmiddellik in kennis gestel. “Die polisie se lugvleuel asook boere in die omgewing het na die aanvallers begin soek en drie verdagtes is gevolglik in hegtenis geneem. Daar is ook beslag gelê op een vuurwapen en ammunisie,” het hy gesê.

Die verdagtes, onderskeidelik 24, 27 en 32 jaar oud, is van die Praktiseer-, Ga-Malekana- en Riba Cross-nedersettings. Die verdagtes sal binnekort in die Groblersdal-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot plaasaanval, poging tot moord en die besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie.

Ngoepe het gesê daar word nog ondersoek waar die vuurwapen waarop beslag gelê is vandaan kom.