“Leeuwyfie” – Jong Vrou (21) Van Pretoria-Noord Veg Vreesloos Terug Teen Rowers

3Feb - by Don Deon - 4 - In Africa crime Farm Attacks Farm murders Genocide Pretoria

“Dit was nog altyd my grootste vrees om deur gewapende mans in my eie huis oorval te word.”

’n Jong vrou het Vrydag soos ’n “leeuwyfie” op drie inbrekers afgestorm toe hulle haar huis in Pretoria-Noord wou beroof.

Haar pa Dennis du Plessis sê sy 21-jarige dogter Liza was vreesloos.

“Een het ’n skoot tussen my bene geskiet met sy vuurwapen, en toe storm Liza op hom af,” vertel hy.

“In die verwarring kon ons al drie by die huis uitboender en die deur toemaak.”

Liza self sê sy het glad nie so dapper gevoel soos die “leeuwyfie” wat die mans bestorm het nie.

“Om oorval te word in jou huis deur gewapende mans, was nog altyd my grootste vrees,” sê sy.

“Al het dit nog nooit met my gebeur nie, het die gedagte daarvan my steeds nagmerries gegee.”

Liza sê haar verloofde Pieter Viljoen, wat saam met haar en haar pa in die huis was, was die eerste een om die oggend deur die drie indringers verras te word.

“Pieter was op pad werk toe en by sy kar het hulle uit die bosse gespring en ’n vuurwapen teen sy kop gedruk.”

Liza sê die mans het Viljoen gedwing om die motorhuis se deur oop te maak.

“My pa was in die kombuis en het deur die venster gesien wat gebeur,” vertel sy.

“Hy het my geroep en gesê ons moet wegkom uit die huis.”

Liza sê die drie mans het hulle egter by die deur betrap.

“Die een het ’n vuurwapen gehad en die ander het ons gedreig met ’n baksteen en bierbottel.”

Liza sê sy onthou hoe een van die mans haar vasgegryp het.

 Die gewapende man het sy vuurwapen op Du Plessis gerig en ’n skoot afgevuur.

“Dis tóé dat ek reageer,” sê Liza.

Sy het die man wat haar gegryp het weggestamp en op die skieter afgepyl.

In haar angs, sê Liza, was die veiligheid van haar pa en verloofde haar enigste kommer.

Liza se onverwagse aksie het die indringers laat terugdeins en met die hulp van haar pa en verloofde is hulle by die deur uitgestoot.

Die mans het gevlug met net ’n selfoon as hul buit.

Du Plessis sê: “Ek is so verlig dat niemand seergekry het nie.”

Hy bedank die polisie en veiligheidsdienste wat vinnig op toneel was.

“Die bierbottel wat een van die mans gehad het, het agtergebly en die polisie kon vingerafdrukke neem.”

Liza sê die traumatisie ervaring sal haar nog lank bybly, maar sy dankbaar dat haar vinnige reaksie ’n verskil kon maak.

Pretoria North Rekord