#PLAASAANVAL:  Erg Aangerande Boer Loop 1 Km Om Hulp Te Ontbied

3Feb - by Don Deon - 0 - In Africa crime Farm murders Genocide
’n Erg aangerande boer wat saam met sy vrou op hul plaas in die Noord-Kaap deur drie rowers oorval is, het Vrydag sowat ’n kilometer geloop om hulp by sy bure te soek.

“Die rowers het hul selfone, bankkaarte en voertuig gesteel. Dit was die enigste manier waarop hy hulp kon ontbied,” sê Hennie van Vuuren, die egpaar se buurman.

Volgens hom het Glen Steyn en sy vrou, Lorraine, wat op die plaas Kneukel tussen Upington en Kimberley woon, Vrydag ’n siek werker na die hospitaal in Barkly-Wes geneem.

Hulle het omstreeks 16:15 by die huis gekom. Glen het in die bakkie gesit en met sy seun oor sy selfoon gesels. Toe sy vrou uit die voertuig klim, “kyk sy reguit in die loop van ’n .30-06 vas”, sê Van Vuuren.

“Drie rowers met klapmusse het Glen aangerand en veral sy linkerarm seergemaak. Hy is ook oor sy kop geslaan en die rowers het op sy rug getrap en hom geskop.

Genadiglik het hulle niks aan sy vrou gedoen nie.”Die rowers het die egpaar se kluis oopgebreek en geld, diamante en waardevolle juweliersware gevra, maar daar was niks.

Hulle het drie vuurwapens – ’n .30-06, ’n .22-langloopgeweer en ’n .23-rewolwer – gebuit. Die rowers het ook die egpaar se bankkaarte gevat en hulle gedwing om te sê wat die PIN-nommers is.

Volgens Van Vuuren kon die egpaar glad nie die rowers se gesigte sien nie en het een selfs ’n duvet om homself gedraai sodat hulle nie kon sien watter klere hy dra nie.

Die rowers het daarna in die egpaar se 2.8 liter-Isuzu met registrasienommer BBP 641 NC gevlug.

“Glen het gesê die bakkie het nie veel diesel in nie. Die polisie en buurtwag soek dus binne ’n 50 km-radius,” sê Van Vuuren.

Hy sê hy het die buurtwag en polisie in Delportshoop ontbied nadat Steyn en sy vrou om hulp aangeklop het.

’n Mensejag is na die rowers begin.

“Ons het ’n bietjie reën hierdie kant gehad wat die bakkie se spore uitgewis het en ons is nie presies seker in watter rigting hulle gevlug het nie, maar hopelik word hulle vinnig aangekeer,” sê Van Vuuren.

Boere Krisis-Aksie